MAAK 'N AFSPRAAK

SKOUER ONSTABILITEIT AND DISLOKASIES

Die skouergewrig word gestabiliseer deur die labrum (‘n kraakbeenagtige ring wat die glenoid omring), kapsel (‘n groep ligament wat die humerus aan die glenoid heg) en omliggende spiere.

Wanneer die labrum en/of kapsel rek of skeur, is daar ‘n verhoogde risiko vir dislokasie van die skouer. Hierdie toestand staan bekend as skouer onstabiliteit, wat weer kan lei tot verdere pynlike skouer toestande.

Dislokasie en subluksasie (gedeeltelike dislokasie) is tekens van onstabiliteit. Die skouer kan na voor (anterior), na agter (posterior) of na onder (inferior) dislokeer. Die onderstaande beelde vertoon ‘n anterior dislokasie wat die meeste voorkom.

‘n Bankart letsel (onder) is ‘n skeur van die labrum vanaf die glenoid tydens ‘n anterior skouer dislokasie:

Labrum skeure van die skouer

Die glenoid labrum is ‘n ferm, wit struktuur wat soos ‘n ring rondom die glenoid ‘potjie’ van die skouer sit. Die labrum is driehoekig en verdiep die potjie van die skouer vir verhoogde stabiliteit. Dit het ook ‘n ‘suigaksie’ effek op die gewrig. Hierdie twee funksies beteken dat die labrum ‘n belangrike rol speel in die stabiliteit van die skouergewrig.

Wanneer die labrum skeur, raak die skouer onstabiel. Dit gebeur tydens ‘n skouer dislokasie.

Verskillende meganismes van besering sal verskillende tipes labrum skeure tot gevolg hê.

Wanneer die skeur aan die voorkant van die skouer plaasvind (3uur-6uur posisie) word dit ‘n Bankart letsel genoem.

Beelding van ‘n SLAP letsel voor herstel

Beelding van herstelde SLAP letsel

Skouer onstabiliteit = dit beteken dat jou skouer herhaaldelik kan dislokeer of sublukseer gedurende aktiewe beweging of oefening. Daar kan verskeie oorsake wees hiervoor en die oorsake sal ook die keuse van behandeling bepaal.

Skouer onstabiliteite word verdeel in 3 hoof kategorieë (hierdie is grootliks gebaseer op die eerste episode van dislokasie)

  • Traumatiese dislokasie: Dit vind plaas wanneer die skouergewrig onder genoeg druk geplaas word om die bal uit die potjie uit te trek, soos bv met ‘n duikslag tydens rugby, motorvoertuig ongeluk of om van ‘n fiets af te val. Hierdie eerste dislokasie sal in die Ongevalle eenheid deur ‘n dokter gereduseer word. Jy sal vir ‘n rukkie ‘n skouerstut moet dra en in sommige gevalle fisioterapie rehabilitasie ontvang.
    • Weens die aard van die trauma geassosieer met so ‘n besering, kan die labrum losskeur van die been (Bankart letsel) en dit kan ‘n onstabiele skouer tot gevolg hê wat weer kan lei tot verdure dislokasies. Chirurgie sal in so ‘n geval aanbeveel word en ‘n anterior stabilisasie prosedure word gedoen waar die geskeurde labrum herstel word. ‘n Bankart besering is die mees algemene besering wat voorkom tydens ‘n traumatiese skouer dislokasie, maar ander beserings kan ook voorkom. Hierdie beserings sal die chirurgiese procedure en rehabilitasie beïnvloed. ‘n MRI of CT skandering word benodig om hierdie beserings te diagnoseer.
  • Atraumatiese dislokasie: Dit vind plaas wanneer die skouer dislokeer met minimum impak soos omdraai in die bed of strek om iets uit ‘n kas uit te haal. Die skouer reduseer gewoonlik spontaan of met ‘n klein bietjie hulp. Gewoonlik is ‘n reduksie by ‘n hospitaal nie nodig nie. Dit kan verskeie kere per dag plaasvind en is geassosieer met spesifieke posisies van die arm. Hierdie tipe besering word geassosieer met mense wat laks gewrigte het, bv mense met hiperekstensie van hulle knieë en elmboë en wat die vloer met gemak kan raak met die palms van hulle hande. Hierdie laksiteit is normaal in hierdie populasie en die dislokasie word geassosieer met die manier hoe die spiere rondom die skouer teenoor mekaar werk, asook met verandering in postuur of die posisie van die arm. Dit veroorsaak dan ‘n wanbalans in die stabiliteit van die gewrig. Fisioterapie word gesien as die beginpunt van behandeling. Die fisioterapeut sal evalueer hoe die spiere tov mekaar funksioneer en daarvoor mik om funksie en stabiliteit te hervestig. Die probleem sal tot ‘n groot mate opgelos word solank daar voortgegaan word met die oefeninge en advies, maar in sommige gevalle sal dit van geen waarde wees nie. Op hierdie stadium sal chirugiese prosedures oorweeg word.
  • Posisionele nie-traumatiese dislokasies: Hierdie groep persone kan hulle skouers dislokeer sonder enige geskiedenis of vorm van trauma. Soms begin hierdie dislokasies as ‘n ‘party trick’, ander se gewrigte ‘val’ sommer net uit. Hierdie tipe dislokasie is gewoonlik pynvry en kan maklik teruggesit word. Beide skouers word gewoonlik betrek. Die oorsaak van hierdie tipe dislokasie is gewoonlik wanneer die sterk spiere rondom die skouergewrig nie in die korrekte volgorde werk nie en dan veroorsaak dat die skouer uit sy potjie getrek word tydens aktiwiteit. Die behandeling van keuse is fisioterapie om die spiere te versterk om verdere dislokasies te vermy. Chirurgie word nie as ‘n reël aangedui nie.

Behandeling:

  1. A. Nie-chirurgiese behandeling: Fisioterapie sal help om die spiere rondom die skouergewrig te versterk en beter beheer rondom die skouer sal verdere onstabiliteite voorkom.
  2. B. Chirurgie: Verskeie chirurgiese behandelings is beskikbaar om onstabiliteite te behandel
    • Artroskopiese prosedures (sleutelgat chirurgie)
    • Oop skouer prosedures (hang af van die tipe toestand)

Langstaande labrum skeure kan lei tot para-labrum siste. Die skeur funksioneer dan soos ‘n eenrigting klep waar daar sinoviale vloeistof uit die gewrig lek, instede van terug in die gewrig in. Die sist kan ook op omliggende strukture soos die senuwees druk.

Bankhart letsel van die linker skouer (voor herstel)

Bankart letsel (na herstel)

Post -operatiewe inligting: Artroskopiese skouer rekonstruksie vir anterior onstabiliteit

Artroskopiese rekonstruksie het die mees algemene chirurgiese behandeling van anterior skouer onstabiliteit geword. Met die gebruik van moderne tegnieke, instrumente en materiale, is die sukses van die operasie baie hoog met 'n lae komplikasie syfer. Daar is egter nog 'n mislukkingskoers van 5 tot 10 % (tot 1 in 10 pasiënte sal verdere episodes van subluksasie of ontwrigting hê na die operasie). Daarom is dit belangrik dat jy jou skouer beskerm na die operasie en jou rehabilitasie program getrou volg.

Dinge wat jy moet weet:

  • Jy sal 'n algemene narkose + /lokale blok vereis
  • Die operasie duur gewoonlik tussen 60-90 minute
  • Jy sal tipies 3 of 4 klein insnydings in die vel hê
  • Jy sal oornag in die hospitaal
  • Die verbande is waterdig, so jy kan stort (uit die stut) deur jou arm op jou maag of langs jou sy te rus
  • Wend 'n yspak gereeld op jou skouer aan die eerste 2 dae en daarna hitte om pyn en swelling te verminder
  • Neem gereelde pynmedikasie in die eerste paar dae, dan soos vereis
  • Jy sal die skouerstut voltyds vir 4-6 weke dra
  • Gedurende hierdie tyd kan jy twee maal per dag uit die stut kom en jou elmboog reguit maak. Sodra jou elmboog reguit is, buig vorentoe vanuit jou heupe en laat die arm vir 10-20 sekondes hang.
  • Na 6 weke kan jy uit die skouerstut kom en word toegelaat om gewone, ligte alledaagse aktiwiteite uit te voer
  • Die doel is om stadig maar seker ’n normale omvang van beweging te bereik, gewoonlik teen ongeveer 12 weke na die operasie
  • Bestuur word teen 4-6 weke toegelaat, sodra jy uit die skouerstut is
  • Afsprake : Dr Charl van den Berg 14 dae, 6 weke en 4 maande
  • STEL DR VAN DEN BERG OF JOU TERAPEUT IN KENNIS INDIEN DAAR ENIGE ONGEWONE SWELLING, ROOIHEID OF PYN IN DIE AREA IS

Rehabilitasie Riglyne

  • 0-6 weke: voltyds in die skouerstut, pendulum en passiewe oefeninge alleenlik
  • 6 weke: hervat sport kondisionering (bv. draf, fietsry) en jou fisioterapeut kan met isometriese oefeninge begin
  • rotatorkraag versterking en skapula rehabilitasie, maar GEEN gevorderde versterkingsoefeninge nie
  • 3 maande: begin progressiewe versterking van die boonste ledemate
  • 4 maande: progressiewe terugkeer na 'beheerde aktiwiteite, insluitend swem, gholf, en gooi aktiwiteite
  • 6 maande: progressiewe terugkeer na volle sportaktiwiteite. Bespreek die gebruik van ‘n beskermende stut met jou terapeut of spandokter

Voorkoming

Sterk skouer spiere bly die beste verdediging teen skouer ontwrigting, subluksasie en dus onstabiliteit. Oefeninge wat hierdie spiere rondom die skouer opbou, moet gedoen word. Die sleutel is om die spiere rondom die skouer te balanseer en te verseker dat nie net die 'spieël' spiere (die spiere wat jy kan sien wanneer jy in die spieël kyk) versterk word nie. Goeie kern stabiliteit en postuur is ook belangrik.

Voldoende opwarming voordat aktiwiteite en die vermyding van 'n hoë - kontak sport sal help om onstabiliteite wat beserings veroorsaak, te voorkom.

Vir meer inligting, sien Voorkoming van Skouerbeserings