Skouer pyn en algemene skouer probleme Skouer Pyn | Algemene Skouer Probleme | Dr Charl van den Berg
MAAK 'N AFSPRAAK

SKOUER PYN EN ALGEMENE SKOUER PROBLEME

Wanneer mense praat van die skouer, behels dit inderwaarheid verskeie gewrige gekombineer met hulle tendons en spiere wat ‘n mobiele arm tot gevolg het — vanaf rug krap tot balgooi.

Mobiliteit kom egter teen ‘n prys. Dit mag lei tot verhoogde onstabiliteit of beknelling van die sagteweefsel of benige strukture in die skouer, wat weer pyn tot gevolg het. Jy kan dalk die pyn voel slegs as jy die skouer beweeg en somtyds is die pyn meer permanent. Die pyn kan tydelik wees, of ‘n diagnose en chirurgie vereis.

Hierdie artikel lig die meer algemene oorsake van skouerpyn uit, sowel as die behandeling daarvoor. Dr. van den Berg sal meer gedetailleerde inligting gee wanneer hy jou skouer ondersoek.

Anatomie:

Die skouer is ‘n bal-in-potjie gewrig en bestaan uit 3 dele:

  • Humerus (bo-arm)
  • Skapula (bladbeen)
  • Klavikel (sleutelbeen)

Die kop van die humerus pas in 'n potjie (bekend as die “Glenoid”) in die blad. ‘n Groep spiere en tendons hou die skouer gesentreer in die skouer gewrig. Hierdie spiere staan bekend as die rotatorkraag. Hulle bedek die kop van die humerus en heg dit aan jou skapula. Daar is 'n vogsak bekend as 'n bursa tussen die rotatorkraag en die been op die bokant van jou skouer (akromion). Hierdie bursa laat die rotatorkraag tendons toe om vrylik te beweeg wanneer jy jou arm in verskillende rigtings beweeg.

Die boarmspier (aan die voorkant van jou bo-arm) help jou om jou elmboog te buig en jou voorarm te draai. Dit stabiliseer ook die skouer. Die boarmspier het twee tendons wat dit aan die bene in die skouer heg.

Die Glenoid (potjie) is uitgevoer met ‘n sagte kraakbeen struktuur genaamd die labrum. Hierdie weefsel help om die kop van die humerus in die skouer gewrig te stabiliseer.

Wat veroorsaak skouer pyn?

Die meeste skouerpyn val in 4 hoof kategorieë:

  • Tendon inflammasie (bursitis of tendinitis) of tendon ruptuur
  • Onstabiliteit
  • Artritis
  • Frakture (gebreekte bene)

Ander minder algemene oorsake van skouer pyn:

  • Tumore of groeisels
  • Infeksie
  • Senuwee beserings

Lokus en graad van skouer pyn

Waar is die pyn geleë?

  • Op die bopunt van die skouer: Mag veroorsaak wees deur die akromioklavikulêre gewrig (AC gewrig) probleme (AC gewrig degenerasie en dislokasie)
  • In die skouer of aan die kant van die arm: Rotatorkraag probleme
  • Aan die agterkant van die skouer: Moontlike artritis van die skouer
  • In die nek en boonste gedeelte van die skouer: Mag veroorsaak word deur verwysde pyn van die nek af

In die nek en skouer en sprei af in die arm tot in die hand: Oorweeg neurologiese toestande soos diskus patologie in die nek of Torakale uitgang sindroom

Wanneer ervaar ek pyn?

  • Skouer pyn gedurende die nag: Pyn gedurende die nag is teenwoordig met meeste skouer probleme. Skouer onstabiliteite affekteer nie die slaappatroon nie, maar meeste ander skouer toestande veroorsaak nagpyn. Die rede daarvoor is dat die inflammasie vererger wanneer gravitasie die skouer aftrek in die lê posisie. In die staande posisie is die skouer ge-eleveer.
  • Konstante of intermitterende pyn in die skouer: Meeste meganiese oorsake van skouer pyn soos bv rotatorkraag skeure, veroorsaak pyn wanneer die arm gelig word. Sekere ander toestande veroorsaak aanhoudende pyn onverwant aan beweging – meestal pyn vanaf senuweebeserings vanaf die nek of Torakale uitgang sindroom.

Hoe erg is my pyn?

  • Akute “verblindende” pyn word gewoonlik veroorsaak deur kalsifiserende tendinitis wanneer kalsium geabsorbeer word.
  • Ander toestande mag intermitterende pyn veroorsaak, afhangende van die posisie van die arm en aktiwiteit
  • Indien die pyn konstant is en van die nek af in die arm en hand verwys, kom dit waarskynlik van ‘n senuweebesering of Torakale uitgang sindroom af.
  • Indien die pyn meer meganies van aard is (slegs geassosieerd met beweging), is dit moontlik agv beskadigde strukture in die skouer afkomstig.

Oorsake:

Bursitis (“inflammasie van die bursa”)

Bursas is klein, voggevulde sakkies wat in gewrigte regoor die liggaam, insluitend die skouer, voorkom. Hulle dien as skok absorbeerders tussen die bene en onderliggende sagteweefsel en help om wrywing tussen die spiere en been te verminder.

Tydens oorbruik, kan inflammasie en swelling in die bursa tussen die rotatorkraag en die akromion voorkom. Dit staan bekend as subakromiale bursitis. Bursitis kom gereeld voor in assosiasie met rotatorkraag tendinitis. Die sagteweefsel in die skouer raak inflammatories en pynlik en daaglikse aktiwiteit, soos hare kam, kan moeilik raak.

Tendinitis (“inflammasie van die tendon”)

‘n Tendon is ‘n koord wat die spiere aan die been heg. Meeste tendinitis is as gevolg van die slytasie op die tendon wat oor ‘n lang tydperk plaasvind, soos die sool van ‘n skoen wat oor tyd dunner uitgeloop raak.

Tendinitis val gewoonlik in 2 groepe:

  • Akuut: Erge, oorhoofse aktiwiteite gedurende werk of sport (balgooi of tennis) kan lei tot akute tendinitis.
  • Chronies: Degeneratiewe toestande soos artritis of herhalende slytasie, kan lei tot chroniese tendinitis.

Die strukture wat die mees algemeen betrek word, is die vier rotatorkraag tendons en die biceps tendon in die skouer. Die rotatorkraag bestaan uit vier klein spiere en hulle tendons wat bo-oor die humeruskop verloop. Hulle help om die humeruskop in die potjie te hou en bied ook mobiliteit en stabiliteit aan die skouer.

Tendon rupture

Tendon rupture word veroorsaak deur ‘n akute besering of degeneratiewe veranderinge in die tendons agv ouderdom, oorbruik, slytasie of ‘n akute besering. Hierdie rupture kan gedeeltelik of volledig wees en die tedon in twee verdeel. In meeste volledige skeure, trek die tendon weg van die benige aanhegting. Rotatorkraag en biceps tendon beserings val in hierdie kategorie.

Beknelling

Skouer beknelling vind plaas wanneer die bopunt van die bladbeen (akromion) druk uitoefen op die onderliggende sagteweefsel strukture (bursa en rotatorkraag) wanneer die arm langs die kant opgelig word. Soos wat die arm oplig, skuur die akromion op die rotatorkraag en bursa en lei tot bursitis en tendinits wat pyn en ingekorte beweging tot gevolg het. Dit kan, oor ‘n tydperk, aanleiding gee tot ‘n rotatorkraag skeur

Onstabiliteit van die skouer

Skouer onstabiliteite vind plaas wanneer die kop van die humerus uit die potjie geforseer word. Dit kan gebeur na ‘n skielike besering, of van oorbruik. Skouer dislokasies kan onvolledig wees, genoem ‘n subluksasie, of ‘n volledige dislokasie waar die humeruskop heeltemal uit die potjie kom.

Wanneer die ligament, tendons en spiere rondom die skouergewrig loskom of skeur, kan herhaaldelike dislokasies plaasvind. Herhaalde dislokasies, wat volledig of onvolledig mag wees, veroorsaak pyn en ongemak wanneer die arm weg van die liggaam opgetel word. Herhaalde episodes van subluksasies lei tot verhoogde risiko van artritis in die gewrig

Artritis van die skouer

Artritis kan skouerpyn veroorsaak. Daar is verskillende tipes artritis. Die mees algemene vorm van artritis staan bekend as Osteoartritis, ook bekend as ‘slytasie’ artritis. Simptome sluit in pyn, swelling en styfheid wat in die middeljare begin. Dit begin stadig en vererger oor tyd.

Osteoartritis kan verband hou met sport of werksbeserings van chroniese oorbruik. Ander vorme van artritis hou verband met rotatorkraag skeure, infeksie of inflammasie van die gewrigspasie.

Mense sal dikwels bewegings vermy wat pyn veroorsaak. Dit kan lei tot ‘n stywe skouer agv die sagteweefsel rondom die skouer wat verkort.

Frakture van die skouer

Skouer frakture betrek gewoonlik die klavikel (sleutelbeen), humerus (bo-arm), en skapula (bladbeen). In ouer mense word die frakture dikwels veroorsaak deur ‘n val. In jonger mense is dit gewoonlik agv ‘n hoë energie besering soos ‘n motorongeluk of kontak sport besering. Frakture veroorsaak geweldige pyn, swelling en verkleuring rondom die skouer.

Doktersondersoek

In die geval van ‘n akute besering en erge pyn, soek dadelik mediese hulp. Indien die pyn nie te erg is nie, kan rus aangedui wees vir ‘n paar dae. Indien die simptome aanhou, moet ‘n dokter geraadpleeg word.

Mediese geskiedenis

Die eerste stap in die proses is ‘n deeglike mediese geskiedenis. Die dokter sal vra wanneer die pyn begin het en hoe die verloop daarvan was en hoe dit behandel is. Hierdie vrae sal ‘n idee gee van jou algemene gesondheid en die moontlike oorsake van jou skouerpyn. Aangesien meeste skouer toestande vererger word deur spesifieke aktiwiteite en ook verlig word deur spesifieke aktiwiteite, is ‘n mediese geskiedenis van kardinale belang, ook om by die oorsaak van die pyn uit te kom.

Fisiese ondersoek

‘n Volledige ondersoek is nodig om die oorsaak van die pyn te bepaal. Die dokter sal kyk vir fisiese abnormaliteite , swelling, deformiteite en spierswakheid, asook teerheid in die area. Hy sal die omvang van beweging van die skouer en spierkrag ondersoek.

Toetse

Jou dokter kan spesifieke ondersoeke aanvra om die oorsaak van die pyn te identifiseer.

  • X-strale: Hierdie beelde sal enige beserings aan die been en skouergewrig aandui.
  • Magnetiese resonans beelding (MRI) en ultraklank: Hierdie ondersoeke toon beter beelde van die sagteweefsel. Dit kan jou dokter help om beserings aan die ligament en tendons rondom die skouer te visualiseer.
  • Rekenaar tomografie (CT) scan: Hierdie beelding kombineer x-strale met rekenaar tegnologie om ‘n baie gedetaileerde beeld van die bene in die skouer te gee.
  • Elektriese studies: Jou dokter kan toetse soos ‘n EMG (elektromiogram) aanvra om senuwee funksie te evalueer.
  • Artroskopie: Tydens hierdie chirurgiese prosedure kyk die chirurg binne-in die skouer gewrig met ‘n kamera. Die artroskopie wys ook sagteweefsel wat nie sienbaar in die fisiese ondersoek of x-strale is nie. Die artroskopie word dan ook gebruik om die skade te herstel.

Wat is die behandelingsopsies vir skouerpyn?

  • Aktiwiteits veranderinge: Behandeling behels rus, modifisering van aktiwiteite, en fisioterapie om omvang beweging en spierkrag rondom die skouer te herstel. Vermyding van oorbruik sal ook help om die skouerpyn te verlig.
  • Medikasie: Jou dokter kan medikasie voorskryf om inflammasie en pyn te beheer. Dit moet gebruik word soos voorgeskryf. Infiltrasies met lokale verdowing en kortikosteroïde kan ook gegee word om die pyn te verlig.
  • Chirurgie: Chirurgie mag aangedui wees om sommige skouerpyn te verlig, maar 70-80% van mense met skouerpyn sal goed reageer op konserwatiewe behandeling (rus, oefen en medikasie). Seker tipes skouer patologie, soos herhaalde dislokasies, of rotatorkraag skeure, sal nie baat vind hierby nie en sal chirurgie benodig. Chirurgie behels die artroskopiese verwydering van litteken weefsel en herstel van beskadigde weefsel. In sommige gevalle sal ‘n groot rekonstruksie, soos ‘n skouer vervanging, uitgevoer word.