Die akromioklavikulêre gewrig is waar die sleutelbeen (klavikel) die plat gedeelte aan die bokant van die bladbeen (skapula) ontmoet. Die gedeelte staan bekend as die akromion. Die gewrig is aan die bopunt van die skouer en beweeg wanneer die arm oorhoofs gebruik word of oor die bors gestrek word. Die AC gewrig word in posisie gehou deur twee ligamente (die coracoklavikulêre ligamente) en word gebuffer deur ’n dik laag kraakbeen of meniskus.
Die drie mees algemene toestande wat die akromioklavikulêre gewrig betrek is artritis, stresfrakture (osteolise) en dislokasies.
AC gewrig artritis: Die mees algemene oorsaak van akromioklavikulê artritis is slytasie weens oorbruik. Dit kom dus meer algemeen voor in die populasie ouer as 50 jaar, sowel as in atlete wat baie stres op die gewrig uitoefen, bv rugbyspelers en gewig optellers.
AC gewrig dislokasie: Die akromioklavikulêre gewrig kan dislokeer tydens trauma, bv ‘n val direk op die skouer, of tydens ‘n val op ‘n uitgestrekte hand. Die graad van dislokasie word bepaal deur die hoeveelheid ligamente wat skeur en hoeveel die sleutelbeen opwaarts beweeg. Die erns van die besering word gegradeer van Graad I-VI.
Herhaalde oorhoofse aktiwiteite wat swaar lading op die punt van die sleutelbeen uitoefen, kan lei tot erosie of stresfrakture (osteolise). AC gewrig stresfrakture word oor die algemeen gesien in sportmanne soos rugbyspelers en gewigoptellers, asook mense wat baie oorhoofse werk doen bv. bouers en verwers.
Akromioklavikulêre gewrig beserings kom meestal voor in atlete wat swaar oorhoofse gewig moet dra, soos bv gewigoptellers, stoeiers en rugbyspelers. Dit kom ook algemeen voor onder bouers, verwers en ouer mense wat slytasie en artritiese veranderinge in die gewrigte het.
X-strale word aanvanklik geneem. ‘n Verskeidenheid van opnames mag aangevra word om die AC gewrig goed te kan visualiseer.
Video of Procedure: http://www.youtube.com/watch?v=feORxSQby2Y
Daar is redelike kontroversie aangaande die sukses van chirurgie vs konserwatiewe hantering van Graad III beserings. Graad I en II beserings reageer goed op konserwatiewe hantering. Graad IV, V en VI beserings benodig meestal chirurgie.