’n Groot verskeidenheid skouerbeserings kan voorkom tydens sportaktiwiteite.
Skouerbeserings word dikwels veroorsaak deur fisiese en sportaktiwiteite wat oormatige, herhalende, oorhoofse beweging benodig soos swem, tennis, krieket en gewigoptel. Beserings kan ook tydens alledaagse aktiwiteite soos wasgoed ophang, gordyne hang en tuinmaak voorkom. Ontwrigtings en AC-gewrig beserings word meer algemeen gesien in kontak sporte(bv. rugby en stoei), terwyl rotatorkraag beserings en biceps beserings meer algemeen is in sporte waar swaar gewigte opgetel word soos gewigoptel. Frakture rondom die skouergewrig kom voor wanneer daar tydens die sport ‘n val of botsing plaasvind.
Dit is soms baie moeilik om die graad van besering aan die weefsel te bepaal na ‘n sportbesering, aangesien ‘n eenvoudige spierbesering dikwels dieselfde presenter as ‘n meer ernstige toestand. Vroeë evaluasie deur ‘n skouerterapeut of ortopediese chirurg is dus baie belangrik om die korrekte diagnose en behandeling te maak. Hierdie evaluasie kan ‘n x-straal, ultraklank en CT/MRI-skandering insluit.
Aangesien die skouer die mees mobiele gewrig in die liggaam is, is dit ook potensieël die mees onstabiele gewrig. Ontwrigtings kom dus algemeen voor. In sommige mense kan minor trauma veroorsaak dat die skouer uitglip. Hierdie gewrig moet so gou as moontlik gereduseer word, waarna ‘n rehabilitasieprogram by ‘n fisioterapeut gevolg moet word.
Meer as 50% van ontwrigtings sal weer gebeur, veral in die jonger sport populasie (onder die ouderdom van 20jr is dit meer as 90%). Herhaalde ontwrigtings lei tot verhoogde onstabiliteit en strekking van die sagteweefsel, wat weer lei to swakker prestasie en minder speeltyd agv besering. Die aanbeveling is dus vroeë ingryping dmv chirurgie. Artroskopie bied die voordeel van minder pyn, vinniger herstel en terugkeer tot sport.
Die klein, harde knoppie wat op die bopunt van die skouer gevoel kan word, is die akromioklavikulêre gewrig (AC gewrig). Hierdie gewrig speel ‘n baie belangrike rol in oorhoofse aktiwiteite, sowel as in atlete wat moet kan gooi. Die gewrig word algemeen beseer deur herhaalde valle op die skouer soos bv na ‘n duikslag. Die gewrig kan ook ontwrig, wat ‘n pynvolle knop op die skouer tot gevolg het. ‘n Verstuite gewrig kan meer langtermyn probleme tot gevolg hê as ‘n suiwer ontwrigte gewrig. Infiltrasies en fisioterapie help baie om die pyn te verlig, maar vir chroniese pyn is chirurgiese verwydering van die gewrig aangedui. Die operasie word artroskopies uitgevoer, wat ‘n vinniger herstelperiode, minder pyn en vroeër terugkeer tot sport beteken. Tradisionele oop chirurgie kan die skouer verder verswak, aangesien belangrike ligament verdeel word tydens chirurgie. Bg word vermy tydens artroskopiese chirurgie.
Subakromiale beknelling (ook bekend as bursitis, beknelling, rotatorkraag tendinitis of supraspinatus tendinitis), word veroorsaak deur herhaalde oorhoofse aktiwiteite en in ouer atlete wat beenpunte vorm wat die rotatorkraag vasknyp in die skouergewrig. Infiltrasies en fisioterapie kan dikwels hierdie simptome verlig, maar herhaalde kortisooninspuitings moet vermy word (veral in atlete). Chirurgie behels die ‘skoonmaak’ van die subakromiale spasie en die verwydering van beenpunte. Dit staan bekend as ‘n subakromiale dekompressie.
Die rotatorkraag is ‘n baie belangrike groep tendons wat stabiliteit en beweging aan die skouergewrig toelaat. Indien hierdie spiere beseer is, kan die pyn en swakheid intens wees. Rotatorkraag skeure, veral in die sportpopulasie, doen goed met vroeë chirurgie, aangesien die skeure groter kan word en dan baie moeilik is om te herstel. Rotatorkraag chirurgie word artroskopies of oop uitgevoer. Ons heg die meeste van die rotatorkraag skeure artroskopies met dieselfde suksessyfer as tydens oop chirurgie.
Superior Labrum Antero-Posterior (SLAP) beserings van die skouer kom algemeen voor in sport waar daar baie oorhoofs gegooi word, swaar gewigte opgetel moet word en rugby. Die aanhegting van die biceps in die skouer word afgeskeur van die benige inplanting deur ‘n trekkrag. Dit kan plaasvind na ‘n duikslag, val, harde gooi of iets swaars op te tel. Die simptome is pyn diep in die skouer wanneer iets opgetel word, of tydens sport. Sommige mense kla van ’n ‘kliek’ sensasie in die skouer en pyn wat in die boarm afstrek. Dit is soms baie moeilik om ‘n diagnose te maak sonder om in die gewrig in te kyk (artroskopie), wat dan ook die behandeling van keuse is.
Die swakpunt van die biceps spier, is waar die tendon aan die been vasheg by die elmboog, asook die oorgang tussen die biceps spier en sy tendon. In atlete, skeur die biceps gewoonlik naby die elmboog. ‘n Duidelike ‘pop’ geluid kan gehoor word en daar is ‘n knop aan die voorkant van die boarm. Vroeë chirurgie word aangedui in atlete en handearbeiders, aangesien dit baie moeilik word om later te herstel. Die biceps kan ook skeur by die skouergewrig – dit gebeur gewoonlik in die ouer populasie en word geassosieer met rotatorkraagskeure. Indien chirurgie aangedui is, word die tendon geheg aan die humerus (tenodese).
Die labrum is ‘n kussingagtige struktuur wat die potjie van die skouergewrig omring (soortgelyk aan die meniscus in die knie). Soos die meniscus, kan die labrum skeur tydens ‘n skouerbesering. Die labrum kan skeur tydens ‘n val of direkte kontak op die skouer, maar kan ook voorkom tydens ‘n trekaksie. Die diagnose word gemaak deur ‘n MR artrogram (MR skandering waartydens spesiale kontrasmiddel in die skouergewrig gespuit word) en dan word dit bevestig tydens artroskopie. Groot labrum skeure word geassosieer met skouerontwrigtings en word Bankart beserings genoem.
Die skouer word gereeld tydens rugby beseer en die detail word bespreek in Prof Len Funk se artikel (sien ander artikel).
Swem behels herhaalde oorhoofse aktiwiteit, met spesifieke spier wanbalanse wat in die skouer plaasvind om die swemaksie te laat plaasvind. Swemmer is dus geneig tot skouerpyn, met meer as twee derdes van elite swemmers wat gedurende hulle loopbaan daarmee sal sukkel. Behandeling behels gewoonlik die aanspreek van die spierwanbalans deur ‘n ervare skouerterapeut. Artroskopiese chirurgie kan uitgevoer word indien subakromiale beknelling en onstabiliteite voorkom.
Frakture rondom die skouergewrig is moeilik om chirurgies te hanteer en daarom is die uitkoms swakker as frakture op ander plekke in die liggaam. Met die gebruik van nuwe fiksasie instrumentasie en tegnieke, asook veiliger chirurgiese tegnieke, word hierdie moeilike frakture herstel wat vroeër terugkeer tot sport as in die verlede verseker.
Ware gevriesde skouer (‘n baie stywe, pynlike skouer sonder ooglopende oorsaak), is skaars in atlete. Meer algemeen word die skouer styf en pynlik na ‘n besering. Die styfheid moet vroeg aangespreek word, asook die onderliggende rede wat die styfheid veroorsaak. Spanwerk tussen die fisioterapeut en skouerchirurg is van baie waarde om ‘n vinnige herstel te verseker.
Artritis is wanneer daar slytasie op die gewrigsoppervlakte voorkom agv ouderdom of oorbruik. Die gewrig se smeermiddel verminder en die gewrig raak styf en pynlik. Die skouer moet beweeglik bly en die spiere so sterk as moontlik. Pynmedikasie kan ook gebruik word. Indien die pyn die daaglikse lewe en slaap ernstig beïnvloed, moet ‘n gewrigsvervanging oorweeg word.
Oorhoofse gooi bewegings plaas ongelooflike hoë stres op die skouer, veral op die gedeelte van die skouer wat stabiliteit handhaaf. In ‘gooi’ atlete, word hierdie stres herhaaldelik toegepas en kan tot ‘n wye verskeidenheid oorbruiks beserings lei.
Alhoewel hierdie tipe beserings meer algemeen in bofbalgooiers gesien word, kan atlete wat deelneem aan volleybal, tennis en ander baan en velditems dieselfde besering opdoen.
Tesame met die ligament en die rotatorkraag, speel die spiere in die boonste gedeelte van die rug ‘n groot rol daarin om stabiliteit aan die skouer te verleen. Hierdie spiere sluit die trapezius, levator scapulae, rhomboids, en serratus anterior in en staan bekend as die skapula stabiliseerders. Hulle beheer die klavikel en skapula bene (die skouergordel) wat as die fondament van die skouergewrig dien.
Spiere in die rug help om die skouer te stabiliseer, veral in oorhoofse aktiwiteite soos gooi. (Nota: hierdie skets is so geteken om die verskillende spierlae in die rug aan te dui)
Wanneer atlete herhaalde hoë spoed gooibewegings uitvoer, word daar aansienlike stress op die anatomiese strukture wat die humeruskop in die glenoid sentreer, geplaas.
Wanneer een struktuur (bv die ligament) verswak agv herhaalde stres, moet die ekstra lading deur die ander strukture hanteer word. Dit lei tot ‘n wye verskeidenheid van skouerbeserings.
Die rotatorkraag en labrum word die maklikste betrek tydens gooi beserings.
SLAP beserings (Superior Labrum Anterior na Posterior): In ‘n SLAP besering, word die bokant (superior) gedeelte van die labrum beseer. Dit is ook waar die lang kop van die biceps tendon aanheg aan die labrum. ‘n SLAP letsel vind beide aan die voorkant (anterior) en agterkant (posterior) van hierdie aanhegtingspunt plaas. Simptome sluit in pyn met sekere skouer bewegings, asook ‘n ‘vang’ en ‘sluit’ sensasie. Pyn diep in die skouer gewrig kan ook ervaar word.
(Links) Die labrum help om die skouergewrig te verdiep. (Regs) Die deursnit van die skouer gewrig wys ‘n tipiese SLAP letsel.
Biceps Tendinitis en tendon skeure: Herhaalde gooi bewegings kan die boonste gedeelte van die biceps tendon irriteer en inflammasie veroorsaak. Dit word biceps tendinitis genoem. Pyn word aan die voorkant van die skouer ervaar en die arm is gewoonlik verswak. Soms kan die skade aan die tendon weens die inflammasie, lei tot ‘n skeur in die tendon. ’n Geskeurde biceps tendon sal skielike, skerp pyn in die arm veroorsaak. Somtyds word ‘n ‘pop’ geluid gehoor wanneer die tendon skeur.
(Links) Die biceps help om die humeruskop gesentreer in die potjie te hou. (Regs) Tendinitis veroorsaak dat die tendon rooi word en opswel.
Rotatorkraag tendinits en skeure: Wanner ‘n spier of tendon oorwerk is, vind daar inflammasie plaas. Die rotatorkraag word gedurig geirriteer in gooiers, wat tendinitis tot gevolg het. Vroeë simptome sluit in pyn aan die voorkant en kant van die skouer. Pyn kan teenwoordig wees tydens aktiwiteit of rus. Soos wat die toestand vererger, kan nagpyn ervaar word en ‘n verlies van krag, funksie en mobiliteit vind plaas. Rotatorkraag skeure kan begin uitrafel en soos wat die skade vererger, kan die tendon skeur. Indien een of meer van die tendons geskeur is, is die tendon nie meer geheg aan die kop van die humerus nie. Die supraspinatus tendon word die meeste geaffekteer in atlete wat baie gooibewegings uitvoer.
Rotatorkaag skeure in gooiers vind meestal in die tendon plaas. In sommige gevalle kan die tendon by die aanhegtingspunt skeur.
Rotatorkraag problem lei dikwels tot bursitis. Daar is ‘n smeersak (bursa) wat tussen die rotatorkraag en die bopunt van die skouer (akromion) voorkom. Die bursa laat die rotatorkraag tendons toe om vrylik te beweeg tydens beweging van die arm. Indien die rotatorkraag tendons beseer of beskadig is, kan die bursa ook inflammasie kry en baie pynlik raak.
Gedurende die terugtrek beweging van die gooi aksie, kan die rotatorkraag tendons aan die agterkant van die skouer vasknyp tussen die humeruskop en die glenoid. Dit staan bekend as interne beknelling en kan oorgaan in ‘n gedeeltelike rotatorkraag skeur. Interne beknelling kan ook die labrum beskadig en veroorsaak dat ‘n deel van die labrum aftrek van die humeruskop af. Interne beknelling kan veroorsaak word deur laksheid van die strukture aan die voorkant van die skouer, sowel as styfheid in die tendons aan die agterkant van die skouergewrig.
Die illustrasie toon die infraspinatus tendon wat vasknyp tussen die humeruskop en die glenoid.
Pyn en die verlies van versnelling tydens gooi, sal van die eerste simptome wees, eerder as ‘n onstabiele gevoel in die skouer. Soms kan die gooier kla dat sy arm ‘dood’ gaan. In die verlede is daar van onstabiliteit gepraat as ‘dooie arm sindroom’.
Glenohumerale Interne rotasie verlies (GIRD): Soos reeds genoem, word baie eksterne rotasie vereis tydens gooi, wat veroorsaak dat die ligament aan die voorkant van die arm strek en verswak. Die strukture aan die agterkant van die skouer verkort, wat ‘n verlies aan interne rotasie tot gevolg het. Die verlies aan interne rotasie verhoog die risiko vir labrum en rotatorkraag skeure.
Scapulêre rotasie disfunksie (SICK Scapula): Gedurende die gooi aksie, is behoorlike beweging en rotasie van die skapula oor die borskas van kardinale belang. Die skapula (bladbeen) heg slegs aan een ander been nl. die klavikel (sleutelbeen). As gevolg hiervan, maak die skapula staat op verskeie spiere in die boonste gedeelte van die rug om dit in posisie te hou en om stabiliteit te verleen aan die skouer bewegings. Gedurende gooi bewegings, veroorsaak die herhaalde gebruik van die rotatorkraag spiere veranderinge in die spiere wat die skapula stabiliseer, wat tot ‘n verhoogde insidensie van besering lei. Skapulêre rotasie en disfunksie word gekenmerk deur die vorentoe ‘hang’ posisie van die geaffekteerde skouer. Pyn aan die voorkant van die skouer kom algemeen voor naby aan die sleutelbeen. In baie atlete met hierdie toestand, sal die borsspiere ook verkort en op hulle beurt problem in die rugspiere veroorsaak. Gewigoptel en borsspier oefeninge sal hierdie toestand vererger.
Hierdie foto toon die abnormale posisie van die skapula aan die regterkant >>
Skouerbeserings kan voorkom word deur basiese riglyne te volg. Voor-seisoen evaluasie van die atlete deur ‘n ervare fisioterapeut kan baie skouerbeserings verhoed. Die volgende areas moet deel uitmaak van die evaluasie.
Sportsspesifieke tegnieke: Swak gewoontes of tegniek is dikwels die oorsaak van skouer pyn en beserings. Dit word eers gesien wanneer die spiere uitgeput raak. Die verskillende oorhoofse aktiwiteite wat nodig is in sport, laat die weg oop vir baie klein en subtiele tegniek foute. Dit sal van sport tot sport verskil en ook van arm dominansie afhang.
Soepelheid: Soepelheid verskil in die spiere rondom die skouer. Die groot, sterk spiere moet genoeg mobiliteit hê om vrye beweging van die pelvis, romp, skapula en humerus toe te laat. In die rotatorkraag, is dit van kritiese belang dat die balans tussen die spiere die humerus kop in die glenoid kan sentreer en in ‘n mindere mate die beweging wat hulle toelaat. Dit is meer belangrik dat die interne en eksterne roteerders ewe beweeglik is, eerder as hoé beweeglik hulle is.
Kern stabiliteit: Kern stabiliteit verleen stabiliteit aan die romp en toraks sodat die skouer ‘n stabiele basis het om vanaf te beweeg. ‘n Goeie skouer het ‘n goeie fundament. Die kern verleen ook ‘n kinetiese ketting vir oorhoofse aktiwiteite en laat die romp spiere toe om energie en momentum na die skouer te verplaas vir oorhoofse sport. Die kritiese areas vir die skouer is die torakale en lumbale werwelkolom en die skapulotorakale gewrig. Indien hierdie areas nie stabiel is nie, sal baie ekstra stremming op die skouergewrig geplaas word.
Rotatorkraag krag en beheer: Die rotatorkraag spiere is afhanklik van goeie posisionering van die skapula vir effektiewe kontrole. Indien die skapula bv te veel na voor roteer terwyl die tennisspeler vorentoe leun om te slaan, is die rotatorkraag biomeganies benadeel en kan nie krag genereer of korrek werk nie. Die rotatorkraag moet gebalanseerd werk regdeur die oorhoofse beweginging en die humeruskop gesentreer hou in die glenoid. Dit verg ‘n gelyke mate van krag en fleksiteit van die tendons van die rotatorkraag.
Algemene versterking: Indien die essensiële komponente van tegniek, fleksiteit, kern stabiliteit en rotatorkraag kontrole aangespreek is, moet daar ook gekyk word na die res van die liggaam. Atlete oefen en versterk gereeld hulle ‘spieël-spiere’, bv pectoralis major, voorste deltoids, trapezius en rectus abdominus (six pack). Die wanbalans tussen die voorkant en die agterkant van die skouer word dikwels nie aangespreek nie. In die grootste hoeveelheid atlete met oorbruiks beserings, kan oorontwikkelde pectoralis en latissimus spiere gesien word, relatief tot die middel en lae trapezius, posterior deltoid en rotatorkraag.